Laetitia Solomons
UNCLE SOLLY’S TAXI’S
Geen doek, geen broek maak van jou ‘n taxidrywer nie
“Dra jy nou ‘n broek of ‘n doek, dit maak nie saak nie, want jy word ‘n taxidrywer gebore.” Só gesels Leatitia Solomons, entrepreneur, aktrise, dramaturg en storieverteller van Cloetesville op Stellenbosch.
As mede-eienaar van hulle familiebesigheid, Uncle Solly’s Taxi’s in Cloetesville, is dit haar taak om elke dag kinders van die omliggende plase by skole uit te kry, werkendes by hul plekke van werk en oues van dae by die winkels vir hulle inkopies. Saam met elke groep van 15 passasiers kom daar ‘n vrag stories saam: stories oor begrafnisse, oor geboortes, oor verjaarsdagpartytjies en natuurlik is daar ook altyd ‘n bietjie skinder by. “Dit is soos ‘n haarsalon, alle stukkies kom hier uit!”
“Nou met lockdown staan alles stil en mag ek niemand vervoer nie,” sê ‘n besorgde Leatitia wat bykans elke passasier op sy of haar naam ken. “Ek weet daar is mense wat by die winkels moet kom, maar met die tye wat vir ons gegee word, kan ek nie betyds oplaai en aflaai nie. Daar is so baie mense wat ver bly en glad nie by die winkels kan uitkom nie. My hande is afgekap.”
‘n Diens aan ‘n gemeenskapVir Leatitia is Uncle Solly’s nie net ‘n besigheid nie. Dit is ‘n diens aan ‘n gemeenskap mense wat vir haar baie kosbaar is. “Ek sal hierdie werk doen solank as wat ek kan. Ek ry selfs kinders rond wie se ouers saam met my op skool was. Dis my plaasgemeenskap hierdie, ek ken en verstaan die mense wat ek vervoer. My werk is om 15 passasiers op ‘n slag veilig van A na B te vervoer met my getroue Rykie (haar taxi is vernoem na haar oorlede ouma, Rachel),” sê sy.
Uncle Solly’s is jare gelede met ‘n perdekar deur haar oupa Solly begin. “Die plaasmense moes by die dorp uitkom, en my oupa het ‘n diens begin.” Later het haar pa en ma, Japie en Pauline, in sedan taxi’s mense begin vervoer en daarna met minibus taxis.
Sy het op 21 jarige ouderdom vir die eerste keer passasiers in een van haar pa se taxis vervoer. Dit is nou bykans 19 jaar later en sy maak steeds seker dat almal hulle bestemmings veilig bereik.
My alter ego
Maar dié taxidrywer het ook ‘n alterego en sy heet: Mathilda, Meraai, Jakopdina, Taaibos, Thys getroud – die een wat tuis is op die verhoog, as aktrise en as dramaturg. Die verwerking van haar eenvrou-verhoogdrama na ‘n kortfilm, genaamd Die Begrafnis, is nie verniet vanjaar vir ‘n SAFTA-prys as beste kortfilm benoem nie.
Leatitia (of Mathilda) het ‘n groot liefde vir die verhoog. Sy tree gereeld op in TV-sepies, doen oorklankingswerk (vir Turkse sepies!) en skryf so tussendeur nuwe verhoogstukke wat soos Die Begrafnis, werke is waarmee sy kan vereenselwig. “Die Begrafnis gaan oor die feit dat ons almal doodgaan en dat dit die eenvoudige dinge in die lewe is wat saakmaak. Dit is ‘n komiese stuk en vertel hoe mense begrafnisse toe gaan met hulle eie agendas.”
“Hulle skinder oor alles. Van hoe die lyk in die kis lyk, oor die kis, die kos en wat die mense dra,” vertel Leatitia.
Al die stories wat sy elke dag hoor, maal ook gedurig in haar kop, soveel so dat sy selfs twee televisiereekse vir Via op Kyknet die lig laat sien het. In hierdie reekse het die allerdaagse stories van haar passasiers met kykers gedeel.
“My passasiers het my geleer dat mens nie baie in die lewe hoef te besit om gelukkig te wees nie. Ek vervoer wonderlike mense. Ons praat mekaar moed in, ondersteun mekaar en dan kry ek nog boonop baie goeie resepte by hulle. Dit is ‘n opvoedkundige werk hierdie,” gesels sy.
Leatitia is al vir elf jaar getroud met Mitch Manuel, haar skoolliefde.
In kort
Leatitia se gunstelinge
Sy eet graag: Stampmielies en bruinbone (of “stamp en stoot” soos sy dit noem)
Fliek: “enigiets met Bruce Willis in”
Verhoogstuk: Die Begrafnis
Sy lees: Huisgenoot en Kuier
Haar droomkar: “Ek is ‘n Mercedes-meisie – daardie mooi plat AMG-een”